SALOMO

SALOMO was die seun en opvolger van Dawid* as koning van Israel*3 en Juda*3 (ongeveer 965–925 vC). Sy geboortenaam was Jedidja (Geliefde van die Here). Hierdie naam dui daarop dat hy die Dawidstroon bo sy opponente sou bestyg (1 Kon 1–11). Dawid se groot ryk het vir Salomo ’n goue regeertyd moontlik gemaak. Sy naam word ook met “vrede” verbind.

Onder Salomo het Israel se grense uitgebrei soos nooit tevore of daarna nie. Dit is te danke aan sy herorganisering van die ryk, sy bouwerke, handel en ekonomie asook administrasie. Geen oorloë het tydens sy bewind plaasgevind nie. Hy deel die ryk in twaalf provinsies (stamgebiede) op en bou sy amptenary oral uit. Elke provinsie sorg ’n maand lank vir die koningshuis. Of die aanduiding van sy vroue (700 hoof- en 300 byvroue volgens 1 Kon 11) korrek is, bly onseker, maar dit dui op sy haremhuishouding en politieke verbintenisse. Die invoer van strydwaens met perde en die opbou van garnisoene dien die koningsadministrasie. Drie arbeidsmagte van 10 000 man elk het boumateriaal uit die Libanon besorg. Daarbenewens was daar 70 000 lasdraers, 80 000 steenkappers en 3 300 toesighouers. Kopermyne is in die suide (Araba) bedryf.

Salomo onderneem verskeie bouprojekte waarvan die tempel*1 in Jerusalem* die vernaamste is. Volgens Kanaänities-Fenisiese voorbeeld is die tempel met die hulp van koning Hiram (van Tirus*) gebou. Die koninklike paleis en paleis vir die koning se hoofvrou tel onder verdere projekte. Op die platteland is voorraadstede en stede vir strydwaens gebou (1 Kon 9). Handelsverdrae met Tirus, Somalië, Egipte* en Sirië* het die invoer en bedryf van hout, edelstene, koring, olie, perde en strydwaens, skeepvaart en kopermyne bevorder.

Die tradisie erken Salomo as wysheidsleraar en digter (1 Kon 5:11-13). Sy verbintenis aan Spreuke*, Prediker*, sommige psalms* en Hooglied* bevestig dit.

Salomo verskyn in Jesus* se geslagsregister (Matt 1), terwyl Jesus sy wysheid en heerlikheid bo dié van Salomo stel (Matt 6).

 

Sidebar