SAMARIA

SAMARIA is ’n stad wat deur koning Omri* van die Noordelike Ryk, Israel*4, gebou is en het as hoofstad van die Noordelike Ryk gedien tot met sy ondergang in 722 vC. Samaria is gebou op ’n heuwel in die sentrale hoogland van Israel, 11 km noordwes van Sigem*. Omri het die heuwel van Semer gekoop (1 Kon 16:24) en die stad in ongeveer 880 vC daarop gebou. Die naam Samaria is afgelei van Semer. Die stad het die pad bewaak wat van noord na suid tussen die berge Ebal* en Gerisim* deur geloop het. Die stad self is 100 m hoër as die omliggende vallei en 430 m bo seevlak. Die ligging van die stad het die verdediging daarvan vergemaklik. Agab* het vir Omri opgevolg. Nadat Jehu* die huis van Omri in ongeveer 841 vC omvergewerp het, het sy dinastie vir ongeveer ’n eeu in die stad regeer. Samaria het sy hoogtepunt beleef in die tyd van Jerobeam*2 II (793–753 vC). Ná sy dood het die Noordelike Ryk vinnig verswak, totdat Samaria in 722 vC deur Sargon* II van Assirië* ingeneem is. Hierna het die stad ’n administratiewe sentrum in die Assiriese* Ryk geword. Dit is ook daarna administratief gebruik deur die Babiloniërs* en die Perse*.

 

Sidebar