SAMARITANE

SAMARITANE het as volksgroep ontstaan ná die val van Samaria* en die wegvoering van die Noordelike Ryk van Israel* in ballingskap* in 722 vC. Die Assiriërs* het veral die “bolaag” van die bevolking in ballingskap weggevoer, terwyl mense uit ander dele van die Assiriese Ryk weer in die noordelike gebied van Israel hervestig is. Deur ondertrouery tussen die agtergeblewe Israeliete en die vreemdelinge het die Samaritane ontstaan. Die inwoners van Juda*4 en die later Jode* het op die Samaritane neergesien. Toe die Jode in die laaste kwart van die 6de eeu vC ná die terugkeer uit die Babiloniese ballingskap*2 die tempel *2 wou herbou, het die Samaritane hulle teengestaan (Esra 4). Hierdie spanning het groter geword ná die terugkeer van Esra* en Nehemia* teen ongeveer 450 vC, toe die Samaritane onder leiding van Sanballat, die goewerneur van Samaria (Neh 4 en 6), die herbou van die mure van Jerusalem* wou keer. Hierna het die Samaritane hulle eie tempel op die Gerisim* gebou. Die finale breuk tussen die Jode en Samaritane het teen 200 vC plaasgevind. Alhoewel die Samaritane met mense ondertrou het wat nie die God van Israel geken het nie, het hulle tog onder leiding van die oorwig Israeliete aan die begin, steeds die Here* aanbid. Hulle Bybel, wat bekend staan as die Samaritaanse Pentateug*, het net die eerste vyf boeke van die Ou Testament beslaan. In die tyd van die Nuwe Testament* was die vyandskap tussen Jode en Samaritane steeds hewig, sodat die Jode van Galilea* in die noorde nie deur die Samaritaanse gebied wou reis na Judea* en Jerusalem* nie. Daarom was dit vir die Jode vreemd dat Jesus* deur die gebied van die Samaritane gereis en met ’n Samaritaanse vrou gepraat het (Joh 4). Die gedagte aan ’n barmhartige Samaritaan (Luk 10:25-37) sou ook vir hulle vreemd gewees het.

 

Sidebar