SAMUEL (PERSOON)

SAMUEL (PERSOON) is ’n oorgangsfiguur van die rigterstyd in Israel* na die koningstyd. Hy is ’n legendariese priester* oor wie daar ’n hele siklus van vertellings versamel is. Die verhale is opgeneem in die boek 1 Samuel* en nou verweef met verhale oor Saul*, Israel*3 se eerste koning, en oor die vroeë geskiedenis van Dawid*. Dit is nie streng kronologies georden nie. Samuel was die seun van Elkana* en sy aanvanklik kinderlose vrou, Hanna*. Sy het in Silo* vir ’n kind gebid en sou hom aan die Here* wy en as ’n nasireër* (Num 6:2-5) grootmaak. Die priester Eli* het haar meegedeel dat dit sou gebeur. Toe Samuel oud genoeg was, het hy in die heiligdom vir die Here begin werk. Hy het Eli se twee seuns in toewyding oorskadu en Eli uiteindelik as priester* vervang. Die Israeliete het Samuel gevra vir ’n koning. Hy was daarteen gekant, maar het Saul as eerste koning aangewys. Later, nadat God Saul verwerp het, is Dawid* as sy opvolger aangewys. Samuel was ’n priester, asook ’n profeetfiguur en leier wat in Rama*, Bet-El*, Gilgal* en Mispa* sake aangehoor het. Ná sy “emeritaat” het hy voortgegaan om vir die volk voorbidding te doen en hulle te onderrig (1 Sam 12:23). Nadat Samuel gesterf het, het Saul sy gees deur ’n medium in En-Dor* geraadpleeg, maar dieselfde oordeelsboodskap as vroeër ontvang.

 

Sidebar