SAN (BOESMANS) EN DIE CHRISTELIKE GELOOF

SAN (BOESMANS) EN DIE CHRISTELIKE GELOOF. Die San is al vir duisende jare inwoners van Suidelike Afrika en kom vandag nog regoor die gebied suid van die Zambesi- en Kunenerivier voor. Hulle ekonomie was altyd gebaseer op ’n jag- en versamelaarsbestaan in groepe van 30 tot 100 mense. Hulle stapelvoedsel varieer volgens streke en sluit in uintjies, bolle, knolle, wortels, neute, veldvrugte, insekte, akkedisse en sommige slange. Elke stam het hulle eie taal (of dialek), gekenmerk deur die vyf klapklanke van alle Koisan-volke. Hulle uitstaande fisieke kenmerke is ’n kort liggaamsbou en ligte gelaatstrekke met sekere noordelike San-groepe wat aansienlik langer en donkerder is. Hulle materiële kultuur word gekenmerk deur klipwerktuie en ’n verskeidenheid voorwerpe, van hout, been, skulpe, riete, leer en ander natuurlike produkte gemaak. Die San was egter nie by metaalbewerking betrokke nie.

Die oorspronklike San-religie kan uit rotstekeninge, -gravures, mondelinge geskiedenis en etnografie afgelei word. Hulle het ’n vae begrip van ’n opperwese, !Khutse, asook ’n slegte wese, Gaua. Daar is die verering van voorouergeeste, en rituele gebruike is oor ’n tydperk van duisende jare ontwikkel om toegang tot bonatuurlike magte uit die spirituele wêreld te verkry. Sogenaamde medisynemense of sjamans het geleer hoe om in ’n beswyming of semi-koma te gaan deur ritmiese en herhalende danse, sange en die geklap van hande om hulle gees in staat te stel om te reis deur ligskynsels tot by die “Dorp van God” in die hemelruim. Die San het geglo dat hulle daar krag ontvang om die siekes gesond te maak, wild te beheer en reën te maak. Onder die San in die noorde van Namibië vind nog altyd helende danse plaas.

Die Christendom* het die eerste keer in 1800 na die San gekom toe die Londense Sendinggenootskap met ’n onsuksesvolle sending by die Sakrivier begin het. In 1825 is sendeling Threlfall van die Wesleyaanse Sendinggenootskap deur ’n paar San vermoor toe sy geselskap ’n sending* by Visrivier-noord in Namibië wou begin. Die eerste suksesvolle sending is deur die Rynse sendeling Schröder in 1879 onder die Kalahari-San begin. In 1911 en 1930 is verdere minder geslaagde pogings geloods. In 1957 het die ELCIN-kerk saam met die Finse Sendinggenootskap met ’n San-sending in die Ovambo- en Kavango-gebiede begin – en in 1971 was daar 700 lidmate. In 1961 het die NG Kerk* te Tsumkwe met ’n sendingaksie begin wat heelwat vrug opgelewer het, so ook die (latere) VG Kerk* in 1968 te Ghanzi, Botswana. Pogings om die San te kersten het verder binne die bediening van verskeie ander denominasies plaasgevind.

Vir verdere lees: RB Lee 1979. The !Kung San – Men, Women and Work in a Foraging Society. Cambridge: University Press. JS Malan 1995. Peoples of Namibia. Wingate Park: Rhino Publishers.

 

Sidebar