SANHEDRIN

SANHEDRIN. In die Nuwe Testament* het die Griekse* term synedrion, wat letterlik “om saam te sit” beteken, ’n algemene en spesifieke gebruik. In die algemeen verwys dit na plaaslike howe of rade wat sosiale orde handhaaf, belasting insamel en straf administreer (Matt 5:22; Mark 13:9). Meestal verwys dit na die hoofraad in Jerusalem* wat handel as juridiese hof, optree as politieke verteenwoordiger van die volk by die Romeinse goewerneur en die sosiale orde beskerm. Die hoëpriester* het die Sanhedrin oorsien en die res van die lede was die vorige hoëpriesters (wat lewenslank lede van die Sanhedrin bly) en ander vername priesters*  (soos die priestershoofde* – owerpriesters) wat saam ’n bepaalde kollegium van priesers vorm, ouderlinge*, skrifgeleerdes* en leiers van die plaaslike Joodse* elite.

Binne die konteks van Romeinse imperiale oorheersing kry die Sanhedrin toenemend – vanweë verhoogde belastings, die feit dat mense maklik hulle grond kon verloor en die voortdurende werklikheid van vreemde oorheersing – ’n negatiewe konnotasie. In Jesus* se geval, veroordeel die Sanhedrin Hom tot die dood, maar hulle moet by die Romeinse goewerneur toestemming kry (Mark 14:64; Matt 26:66). Johannes*2 skryf ’n politieke motief aan die Sanhedrin toe. Volgens Johannes vrees hulle dat Jesus sosiale onrus sal bewerk en die woede van die Romeine kan ontketen (Joh 11:48-50). Lukas*, ’n heidense gelowige, hanteer die Sanhedrin meer neutraal en sien dit as nodig vir die orde van elke stad (Luk 22:66).

 

Sidebar