SANHERIB

SANHERIB is die Assiriese* koning (704–681 vC) wat by twee geleenthede sy invloed in Juda*4 laat geld het. Hy het Juda binnegeval en die land gedreig omdat Hiskia* betrokke was by ’n sameswering teen hom.

Hiskia het ’n ooreenkoms met Egipte* gesluit om die Assiriese* juk af te gooi. Die Assiriese hoofadjudant word na Jerusalem* gestuur om die inwoners oor te haal om teen hulle eie koning en Egipte* te draai. Hulle moet hulle ook aan Assirië onderwerp. Jesaja* raai Hiskia aan om die aanhitsing te weerstaan en die Here* te vertrou. Sanherib vertrek onverwags na sy land en word deur twee van sy seuns vermoor (2 Kon 18:13–19:37; Jes 36–37; 2 Kron 32:1-23). Die Bybel* skryf die vertrek van die Assiriërs aan die ingryping van die Engel*2 van die Here toe. Herodotus (2.141) beweer dat ’n plaag muise die leertoerusting van die Assiriese soldate beskadig het.

Die tweede gebeurtenis handel oor die afvaardiging wat Merodak-Baladan van Babilonië* na Hiskia gestuur het om sy steun vir ’n opstand teen Sanherib* te werf (2 Kon 20:12-19; 2 Kron 32:31; Jes 39). Sanherib se magte beleër Jerusalem en ontvang volgens Assiriese bronne skatplig van Hiskia. Die uitkoms van die beleg word nie aangedui nie. (Kyk ook: Agikar.)

Vir verdere lees: JD Douglas 1998. Illustrated Bible Dictionary. Leicester: IVP. GA Buttrick 1962. Interpreter’s Dictionary of the Bible. Nashville: Abingdon Press. MC Tenney 1975. Zondervan Pictorial Encyclopedia of the Bible. Grand Rapids: Zondervan.

 

Sidebar