SARA

SARA is die aartsmoeder van Israel* en vrou van Abram/Abraham*, én ook sy halfsuster. Sarai/Sara het saam met Abraham haar land verlaat. God het aan haar en Abraham ’n groot nageslag belowe, alhoewel sy onvrugbaar was (Gen 11:30). God verander haar naam van Sarai na Sara. Sara beteken “vorstin”: “Ek sal haar seën en vir jou ’n seun uit haar gee. Ja, ek sal haar seën, en nasies en konings van volke sal uit haar voortkom” (Gen 17:16). Sara het gesukkel om God se belofte van ’n nageslag te glo, want sy was al verby die ouderdom van kinders baar. Sara was ’n mooi vrou, en Abraham het selfs gejok en voorgegee dat sy sy suster is (en nie sy vrou nie) om sy eie lewe te beskerm. Sy het konflik met Hagar* beleef nadat sy Hagar vir Abraham as vrou gegee het. Sara was 90 jaar oud toe haar seun Isak* gebore is. Sara was soos ander vroue van haar dag uitgelewer aan ’n patriargale stelsel* waar vroue se waarde geleë was in hulle vermoë om kinders in die wêreld te bring. Heb 11:11 noem haar ’n geloofsgetuie.

 

Sidebar