SARDIS

SARDIS was een van die bekendste stede in die ou koninkryk van Lidië, geleë in ’n vrugbare deel van Klein-Asië*, ongeveer 55 kilometer noord van Efese* en 80 kilometer oos van Smirna* en gebou op ’n spits van berg Tmolus. Dit was ’n welvarende hawestad aan die Paktolusrivier met onder andere weelderige tempels vir Artemis* en vir Zeus*. Die stad is bekend vir die ryk koning Kroesus wie se gebied deur Kores* die Grote tot ’n Persiese* satrapie gemaak is. Daarna is dit verower deur Aleksander*1 die Grote (vanaf 334 vC), die Seleukiede wat dit een van hulle drie belangrike sentra gemaak het, en die Romeine (Kyk by: Romeinse Ryk). Nadat dit in ’n massiewe aardbewing vernietig is (17 nC), het keiser Tiberius* dit herbou. Sardis is die vyfde gemeente in Openbaring* (Op 1:11; 3:1-6). Sommige lede van die welvarende Joodse* bevolking van die stad het in die wyer gemeenskap ’n groot rol gespeel en een van die mooiste sinagoges* buite Palestina* hier opgerig.

 

Sidebar