SARTRE, JEAN-PAUL

SARTRE, JEAN-PAUL (1905–1980) was ’n Franse eksistensialistiese skrywer en filosoof. Ateisme* is ’n sentrale deel van Sartre se filosofie. Die “dood van God” beteken volgens Sartre dat die mens radikaal vry en vir sy eie keuses verantwoordelik is. Hy was in sy tyd baie gewild, onder meer vir somber uitsprake soos “die hel is in ander mense”. Sartre het ’n lewenslange verhouding met die filosoof en skrywer Simone de Beauvoir gehad en gereeld sy steun vir linkse politieke sake uitgespreek. Hy skryf ook romans en dramas in die gees van die eksistensialisme*, soos Die walging en Met geslote deure.

Sartre fokus op die outonome vryheid van die mens. Die mens is sy vryheid in soewereine selfgenoegsaamheid. Tog moet die mens steeds in die dinamiek van self-transendensie kies – derhalwe is die mens nie, maar word steeds – want die mens is altyd mens-in-situasie (by Heidegger*: die mens-in-die-wêreld). Enersyds is die mens sy liggaam, en andersyds impliseer die vernietsende vryheidsakt van my bewussyn dat ek my liggaam transendeer, te bowe gaan (le corps dépassé).

Waar self-transendering die positiewe vorm van die vryheidsidee is, beliggaam “neantisering” (ver-niksing) die negatiewe gestalte daarvan. Gekombineerd beteken dit dat die mens uitsluitlik deur self-transendering die syn (natuur) kan “neantiseer”.

Omdat kultuur* behoort tot die faktisiteit (feitlikheid) van die menslike bestaan, moet die mens sig daarvan distansieer deur dit te transendeer, want anders word die mens van sigself vervreem. Tog is die toevallige werklikheid in die faktisiteit daarvan die enigste “syn”. Transendensie beteken die mens is ’n “gat in die syn”.

In alles staan die enkeling sentraal – met geen naasteliefde in Bybelse* sin nie, want die selfverkiesende en selfontwerpende mens is geborge in sy vryheid wat die “naaste” steeds diensbaar moet maak aan die magsheerlikheid van die outonome self. Hierdie vernietsende vryheid versand egter uiteindelik in ’n radikale nihilisme*.

 

Sidebar