SATAN / DUIWEL / BEËLSEBUL

SATAN / DUIWEL / BEËLSEBUL is benamings vir ’n figuur wat in die Bybel* as die hoofteenstander van God en teisteraar van mense beskryf word. Hy is die hoofaanvoerder van ’n hele ryk met engele* tot sy beskikking (Op 12:9).

“Satan” (Hebreeus*) of “duiwel*” (Grieks*: diabolos) beteken “(vals) aanklaer” of “teenstander”. Die term kom nie baie in die Ou Testament* voor nie. Soms word mense “satan” genoem (“teenstanders” – 2 Sam 19:22), maar dit is Satan as onmenslike figuur wat belangrik is. Hy word geteken as beswadderaar (Job 1–2), aanklaer van God se dienskneg (Sag 3:1-2) en verleier van Dawid* (1 Kron 21:1).

In die Nuwe Testament* kom hierdie figuur baie meer voor. “Satan” en “duiwel” word omtrent ewe veel gebruik. Hy word ook die “prins” of “god van hierdie wêreld” genoem. Hy voer ’n fel stryd teen God en is die groot versoeker van mense. Christus* het Satan reeds oorwin, maar die finale vernietiging van sy ryk is nog uitstaande.

Die betekenis van “Beëlsebul” as naam vir Satan is onseker, maar dit is waarskynlik “heer van die hemel/tempel”. Jesus* se teenstanders gebruik dit as skeldnaam vir Hom (Matt 10:25) en sê dat Hy in Beëlsebul se naam demone uitdryf. Jesus wys egter op die belaglikheid daarvan (Matt 12:22-32). (Kyk ook by: Bose.)

 

Sidebar