SAUL

SAUL was die seun van Kis* uit die stam Benjamin* in Gibea*. Hy was die eerste koning van Israel3* (1 Sam 9–31). Dis onbekend presies hoe lank hy regeer het. Aan die begin van sy heerskappy toon hy ooreenkomste met die charismatiese rigtersfigure. Saul kom in konflik met godsdienstige tradisies – wat verteenwoordig is deur die priester*, profeet* en rigter*, Samuel* – asook met sy polities-militêre opvolger, Dawid*. Saul voer oorloë teen al sy bure en verdryf die Filistyne*. Sy toenemende negatiewe karakterisering en Dawid se militêre oorwinnings word vervleg met die opkoms van ’n nuwe dinastie uit die stam Juda*. In Dawid se skaduwee sterf Saul tragies op die berg Gilboa (1 Sam 31). Nadat Dawid van Saul en sy seun Jonatan* se dood gehoor het, was hy geweldig hartseer en het hy ’n treffende klaaglied tot hulle eer gesing (2 Sam 1:17-27). In die ouer Afrikaanse* letterkunde is daar ’n roman met Saul as hoofkarakter: DF Malherbe* se Saul, die worstelheld (1935). 

 

Sidebar