SCHLEIERMACHER, FRIEDRICH DANIEL ERNST

SCHLEIERMACHER, FRIEDRICH DANIEL ERNST (1768–1834). Naas die suiwere rede en praktiese rede, verdedig Schleiermacher ’n derde gemoedsdomein in die mens se hart of gevoel. Die gevoel dat ons nie onsself of enigiets gemaak het nie, maar dat ons gedra word, bepaal word en afhanklik is asook gelei word deur iets wat altyd voor en bo ons is, beliggaam vir Schleiermacher egte godsdiens*. Godsdiens is gegee in die deemoed en oorgawe aan hierdie selfgevoel en selfbesef van deel-hê aan die oneindige geheel. Die Christelike geloof* is gefundeer in die godsdienstige ervaring van ’n volstrekte afhanklikheidsgevoel en dit is ingebed in ’n universeel-aanwesige godsdienstige aanleg.

In sy hermeneutiek* wys Schleiermacher op die hermeneutiese sirkel waar die mens optree as “orgaan van die taal” terwyl die taal tegelyk ’n “orgaan van die mens” is. Die metodologiese sirkel in die verstaansproses geskied deur ’n vergelykende en “divinatoriese” rekonstruksie rakende die verhouding van die geheel tot die dele – om die geheel te verstaan, moet ’n mens die dele verstaan en omgekeerd. Wat egter dikwels uit die oog verloor word, is dat hierdie sirkel ook tussen universeel en indiwidueel bestaan: “Die partikuliere is slegs deur die universele te verstaan” en insgelyks “kan die indiwiduele slegs deur die geheel verstaan word”.

Schleiermacher kan beskou word as die vader van die praktiese teologie*. Hy het ’n groot deel van sy tyd daaraan gewy om die beroep van die predikant* as ’n professionele beroep uit te bou en die studie van teologie as ’n volwaardige vakwetenskap aan ’n openbare universiteit te verdedig.

 

Sidebar