SCHMIDT, GEORG

SCHMIDT, GEORG (1709–1785) was die eerste voltydse sendeling* in Suid-Afrika. As 16-jarige seun het hy tot bekering gekom en sy weg na die Morawiese Broedergemeente* by Herrnhut (Duitsland) gevind (Kyk by: Herrnhutters). Ná talle wedervarings (hy moes onder meer ses jaar lank vir sy geloofsoortuiging tronkstraf in sy geboorteland, Morawië, uitdien), het Schmidt in 1737 as sendeling van die Morawiese Sendinggenootskap* na die Kaap vertrek. Nadat hy eers by Soetmelksvlei (in die omgewing van Riviersonderend) gewerk het, het hy sy werk na Baviaanskloof (later Genadendal* genoem) verskuif. Toe Schmidt sy eerste Khoekhoen*-bekeerlinge begin doop* het, het dit groot ontevredenheid onder sommige Kaapse predikante, wat nie die ordening* van Schmidt erken het nie, veroorsaak. In 1744 is Schmidt as teleurgestelde man terug na Europa waar hy vir nog veertig jaar as verkondiger van die evangelie* gewerk het. Sy werk aan die Kaap was egter nie sonder vrug nie. Toe drie Morawiese sendelinge ’n halfeeu later (1792) Baviaanskloof besoek het, was ’n peerboom wat hy geplant het, vol in die blom – en was Magdalena, een van sy eerste groepie dopelinge, nog daar om hulle te verwelkom. (Kyk ook: Tikkuie, Vehettge*.)

Vir verdere lees: Dionne Crafford 1982. Aan God die dank, deel 1. Pretoria: NGKB.

 

Sidebar