SCHOEMAN, KAREL

SCHOEMAN, KAREL (1939–2018) is een van die belangrikste romanskrywers in Afrikaans*. As jongman het hy vir ’n tyd in Ierland studeer om priester*2 te word in die Katolieke Kerk*. Hy het hierdie studies gestaak, maar sy belangstelling in die mistiek* steeds behou. Alhoewel sy werk nie ’n religieuse karakter vertoon nie, is die konsep van godsdiens selde heeltemal afwesig. Sy eie verbintenis met die kerk in verskeie vorms, vind ruimskoots weerklank in sy outobiografiese roman, Die laaste Afrikaanse boek. In sy roman ’n Ander land, stellig een van die grootste romans in die Afrikaanse letterkunde, is die onbetrokke hoofkarakter, Versluis, wat aan die einde van die 19de eeu Bloemfontein toe gekom het in ’n poging om van tuberkulose te genees, telkens in ’n godsdienstige gesprek met die Lutherse* pastor, Scheffler. Die sterwende man word skerp gekontrasteer met die jong, intelligente en toegewyde pastor.

In Schoeman se voortreflike drieluik, Stemme, speel kerk en predikant* ook telkens ’n rol: in Hierdie lewe in ’n suiwer tradisionele en troostende sin, in Verliesfontein in ’n meer politieke dimensie, en in Die uur van die engel in ’n beduidende rol as tussenganger. Al drie hierdie romans speel af in ’n historiese konteks, al is die hede die vertrekpunt.

Schoeman is ’n verkenner van die mens in sy ervaring van selfs die gewoonste omstandighede. Normaalweg verloop sy romans sonder werklike hoogtepunte of dramatiese gebeure. Die klein besonderhede dra die belangrike in sy verkenning van die menslike psige. Schoeman is in 2018 aan selfdood oorlede, ook omdat hy die magteloosheid en afhanklikheid wat die ouderdom meebring, wou vermy.

 

Sidebar