SCHOLTZ, ANDREW HENRY MARTIN

SCHOLTZ, ANDREW HENRY MARTIN (1923–2004) het min skoolopleiding gehad en sy debuutroman het verskyn toe hy al 72 jaar oud was: Vatmaar in 1995. Dit is, in “die vreemde Afrikaanserige Engels” waarin dit uiteindelik ná noukeurige redigering verskyn het, as “‘n klein juweel” beskou: “Die eerste werklik literêr betekenisvolle roman in Afrikaans* deur iemand anders as ’n wit skrywer” (Jakes Gerwel). Vatmaar handel oor die lotgevalle van ’n fiktiewe hoofsaaklik bruin nedersetting in die Noord-Kaap. Die skrywer-verteller bly op die agtergrond en stel net die baie stemme en karakters in die sowat sestig kort hoofstukke aan die woord om die talle stories van die dorpenaars te vertel wat sowel die Boere as die Engelse in hulle onmenslike optrede tydens die Anglo-Boereoorlog* ontmasker (JC Kannemeyer).

Scholtz se tweede boek, Langsaan die vuur, verskyn in 1996: vyf lewensverhale wat uit verskillende perspektiewe vertel van die lang geskiedenis van verontregting in Suid-Afrika. Dikwels word die ellende met geestigheid versag, oorleef die mense deur te lag eerder as te huil. En die hoop bly flikker: “Die tyd sal kom … wanneer wit en swart sal saam sit en kyk hoe mooi speel hulle kinders … Daar sal nog gepraat word van vergifnis of versoening.”

Scholtz se laaste prosawerk, Afdraai, het in 1998 verskyn. Die roman strek van die Anglo-Boereoorlog* tot by die demokratiese bedeling wat in 1994 in Suid-Afrika aangebreek het, met Anna en Hester die hoofkarakters – lg die bruinste van die twee, ’n feit wat sorg vir baie leed. Scholtz se “boodskap” aan die begin is tekenend van wat die roman wil sê: “Laat vergeefnis die oorhand kry en saam met erbarming die paadjie loop, want wonde kan genees word en tyd kan vergewe. Slaan toe die ope deur na die verlede, stap weg en kyk nie om nie.”

Vir verdere lees: AHM Scholtz 1995. Vatmaar. Kaapstad: Kwela Boeke. JC Kannemeyer 2005. Die Afrikaanse Literatuur 1652–2004. Kaapstad: Human en Rousseau.

 

 

Sidebar