SCHOLTZ, GERT DANIËL

SCHOLTZ, GERT DANIËL (1905–1983) het, ná sy studie aan Unisa, in 1937 ’n doktorsgraad in geskiedenis aan die Gemeentelike Universiteit van Amsterdam behaal. Hy was een van die stigtersredaksielede van Die Transvaler en word in 1960 hoofredakteur daarvan. Scholtz was intens geïnteresseerd in die Afrikaner* se politieke geskiedenis. Die bekendste van sy werk in hierdie verband is sy monumentale reeks van sewe dele getiteld Die ontwikkeling van die politieke denke van die Afrikaner. Hy het ook ’n belangwekkende boek oor die voortbestaan van die Afrikaner geskryf waarin hy die oortuiging uitgespreek het dat die Afrikaners net sou kon voortbestaan as hulle selfversorgend raak. Hy het gevolglik ’n radikale en konsekwente verdeling van Suid-Afrika tussen wit en swart voorgestaan. As kerkmens het hy hom ook in die geskiedenis van die NG Kerk* verdiep wat tot die publikasie van sy meerdelige werk oor die geskiedenis van die (Transvaalse) Ned Herv of Geref Kerk gelei het.

Scholtz se belangstelling in die wêreldgeskiedenis en internasionale gebeure het neerslag gevind in verskeie publikasies en bydraes vir ander media soos die radio. Hy het destyds reeds die opkoms van China en die Ooste as toekomstige magsblok voorspel. Dr Scholtz, pa van die historikus en koerantman dr Leopold Scholtz en die teoloog en sielkundige dr Adelbert Scholtz, het as buitengewone professor in geskiedenis aan die Randse Afrikaanse Universiteit die eerste nagraadse Suid-Afrikaanse kursus oor Oosterse beskawings aangebied.

 

Sidebar