SCHOON, HERMAN FREDERIK

SCHOON, HERMAN FREDERIK (1851–1930) het in 1860 vanuit Rotterdam per seilskip saam met sy ouers in Durban aangekom. Hulle vestig hulle in Pietermaritzburg en hier ontvang hy sy eerste skoolonderrig, maar ná die afsterwe van sy ma en kort daarna sy pa bevind hy hom in pleegsorg by Petrus Potgieter naby Balgowan. Met slegs beperkte skoolonderrig word hy onderwyser, maar besluit om predikant* te word. Hy behaal in 1876 die matrikulasie-eksamen op Stellenbosch en word in 1881 aan die Teologiese Seminarie* gelegitimeer. Hy help ’n rukkie in die gemeente Pietermaritzburg, maar is aan die begin van 1882 in Nieu-Bethesda bevestig. ’n Jaar later word hy predikant van Ladysmith waar hy tot sy emeritaat (1917) sou arbei én oorlede is.

In ’n uitgestrekte pioniersgemeente, dikwels geteister deur moeilike tye soos die Anglo-Boereoorlog*, die Rebellie*, die Eerste Wêreldoorlog*, onderskei Schoon hom as toegewyde leraar. Sy bediening van 34 jaar word paslik bekroon met die eretitel “Vader Schoon”. Hy was dit óók vir die Natalse kerk: hy dien twee termyne as moderator* en vir 27 jaar (1886–1913) as skriba van die sinode*. Hy was ook meermale afgevaardigde na die Federale Raad van die NG Kerke* en tree by geleentheid as voorsitter op.

Vir verdere lees: WM Kalmijn 1954. Nederduitse Gereformeerde Kerk Ladysmith Natal 1854–1954. Pietermaritzburg. GA Maeder en C Zinn 1917. Ons Kerk Album van Hollandsche Kerken en Leeraren. Kaapstad.

 

Sidebar