SCHREINER, OLIVE EMILIE ALBERTINA

SCHREINER, OLIVE EMILIE ALBERTINA (1855–1920) se pa was ’n sendeling* van die Wesleyaanse* Sendinggenootskap, maar vanweë hulle geïsoleerde posisie het Olive net ’n gebrekkige formele opvoeding gehad wat sy met die lees van werke van internasionaal bekende skrywers soos Goethe, Herbert Spencer en Ruskin aangevul het. Tussen 1874 en 1881 was sy goewernante waartydens Undine (1828) en The Story of an African Farm (1883) gepubliseer is – beide was semi-outobiografies. Haar roem berus hoofsaaklik op lg meesterlike maar stilisties-gebrekkige publikasie waarin haar feministiese* idees en anti-Christelike sienings tot uiting kom. In die aanloop tot die Anglo-Boereoorlog* het Schreiner, ’n vurige ondersteuner van die Boererepublieke, Rhodes* se imperialisme gekritiseer, onder meer in die allegoriese Trooper Peter Halket of Mashonaland (1897). Haar treffendste protesskrif in dié era teen Britse optrede is egter An English South African’s View of the Situation (1899). Gedurende dié oorlog neem Schreiner aan verskeie protesvergaderings deel, veral vroue-protesbyeenkomste. Haar politieke filosofie is later goed verwoord in ’n boek wat ná haar dood in 1923 verskyn het: Thoughts on South Africa. Ná die oorlog fokus Schreiner op maatskaplike kwessies soos anti-semitisme (A Letter on the Jews, 1906) en vroueregte (Woman and Labour, 1911).

Afgesien van haar persoonlike geloofsoortuigings, weerspieël Schreiner se lewens- en wêreldbeskouing dié waardes wat aan die kern van sowat alle religieë lê: medemenslikheid, geregtigheid*, vryheid en gelykheid. Dié ideale wêreld het sy reeds as kind in die bergpreek (Matt 5–7) gevind. Op 26 Junie 2005, met die vyftigste herdenking van die aanvaarding van die Vryheidsmanifes, het pres Thabo Mbeki* ter herdenking van Schreiner se geboorte 150 jaar vroeër, die Orde van Ikhamanga (goud) postuum aan haar toegeken vir haar letterkundige werke en haar stryd vir menseregte* en die demokrasie*.

Vir verdere lees: Vera Buchanan-Gould 1949. Not without Honour: The Life and Writings of Olive Schreiner. Kaapstad: Hutchinson. Karel Schoeman 1992. Only an Anguish to Live here: Olive Schreiner and the Anglo-Boer War 1899–1902. Kaapstad: Human en Rousseau.

 

Sidebar