SCHREUDER, HANS PALUDAN SMITH

SCHREUDER, HANS PALUDAN SMITH (1817–1882) is deur die Noorse sendinggenootskap as hulle eerste buitelandse sendeling* na Zoeloeland gestuur. Naas sy teologiese opleiding het hy ook heelwat kennis gehad van die medisyne, was bedrewe in die ambagte van smid, timmerman en snyer en daarby was sy lewenskrag byna legendaries.

Met sy knap geneeskundige behandeling van koning Mpande wen hy hierdie Zoeloekoning se vertroue. Hy stig verskeie sending*stasies en deur volhardende werk het hy teen 1870 nie minder as negentien stasies met nege Noorse priesters en ses assistente gehad om hom by te staan nie. Sy oortuigings dra ’n duidelike Lutherse* stempel, maar sy gesentraliseerde beheer val nie in die smaak van sy genootskap nie. Hy bedank later uit die genootskap en sit selfstandig sy sendingwerk voort tot sy dood toe. Hy het aansienlike invloed onder die Zoeloes* verwerf en ’n leidende rol in die kroning van Cetshwayo gespeel. Sy studie van isiZulu volg hy op met verskeie publikasies – soos ’n leesboek, ’n gesangeboek en ’n eerste grammatikaboek van die Zoeloetaal – asook vertalings van Luther* se werke, ’n boek met die Psalms*, die Sendbriewe (Kyk by: Brief) en Evangelies (Kyk by: Evangelie).

Vir verdere lees: BJT Leverton 1968. “Schreuder, Hans Paludan Smith” in: Suid-Afrikaanse biografiese woordeboek, deel 1, Pretoria: RGN

 

Sidebar