SCHUTTE, HERMAN

SCHUTTE, HERMAN (1744–1844) was een van die bekendste en bekwaamste vroeëre argitekte en bouers aan die Kaap. Uit ʼn artistieke oogpunt kan sy bydraes as argitek egter nie heeltemal vergelyk word met dié van Thibault* nie. Sy geboue het nietemin ’n bekoring as goeie voorbeelde van veral die Duitse rococo-boustyl.

Die Duitsgebore Schutte was aanvanklik sewe jaar as jong argitek in Hanover werksaam voordat hy as argitek en boukontrakteur in diens van die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie* (VOC) in 1790 na die Kaap geïmmigreer het. Hy is eers op Robbeneiland* as klipkapper aangewend, maar ’n ongeluk in 1792 het sy tydelike ontslag uit die diens van die Kompanjie genoodsaak.

Van die bekendste geboue wat hy in Kaapstad opgerig het (sommige is ook deur hom ontwerp), is die Vrymesselaarslosie de Goede Hoop (1803), die Groenpuntse vuurtoring (1823), die St George’s-katedraal en die Groote Kerk (1841). In lg geval is die bestaande kerkgebou van 1704 grotendeels gesloop, behalwe vir die kerktoring, die konsistorie en twee klokke van onderskeidelik 1726 en 1810. Die nuwe kerk was oorwegend in die neo-Gotiese en neo-Klassieke styl. Hy is in 1796 in die Kaapse moederkerk met die vrygestelde slavin, Christina Voges, getroud en in 1835 met Susanna Silip.

Vir verdere lees: MJ Swart et al 1989. Afrikanerbakens. Pretoria: FAK. JC Visagie: “Herman Schutte se vuurtoring” in: Historia, September 1964.

 

Sidebar