SCHÜTZ-MARSAUCHE, ROGER LOUIS (BROTHER ROGER)

SCHÜTZ-MARSAUCHE, ROGER LOUIS (BROTHER ROGER) (1915–2005) is op Provence in die Switserse Alpe gebore. Sy pa was ’n Lutherse* predikant. Reeds van kleins af was Roger bewus van die kloof tussen Protestante* en Katolieke*. Terwyl hy op skool was, het hy by ’n Katolieke gesin gebly omdat hulle die losiesgeld nodig gehad het. Nadat hy van tering herstel het, het hy ’n geloofskrisis beleef en opnuut tot oorgawe gekom. Hy het vir teologie* by Lausanne ingeskryf met die oog op ’n bediening in die Lutherse Kerk*. Hy het toe al die visie van ’n soort klooster*lewe met ’n meer ekumeniese* en Protestantse inslag gehad. Die verwoesting van die Tweede Wêreldoorlog* het hom aangespoor om ’n plek in Frankryk te kry waar ontwrigte mense en vlugtelinge in stilte en vrede kon werk. Met dit in gedagte, het hy ’n huis op ’n klein plasie in die hartjie van Boergondië, by Taizé, gekoop. Dit was in een van die armste en mees geteisterde dele van Frankryk. Hier het hy alleen gewerk en gebid en almal onderdak gegee wat in nood verkeer het – veral Joodse* vlugtelinge. Hy het steeds bly bid vir medewerkers wat sy droom gedeel het. Van 1949 af het etlike gelowiges van verskillende Protestantse kerke by hom aangesluit. Eers 20 jaar nadat hy met die plaas begin het, het die eerste Katoliek daar opgedaag, en net die volgende jaar ook ’n Katolieke priester*2, broer Marcel, met die goedkeuring en aanmoediging van sy biskop*. Broer Roger se droom is verwesenlik en die Taizé-gemeenskap* is gebore – die wêreld se eerste werklik ekumeniese gemeenskap. Broer Roger het altyd ’n lae profiel probeer handhaaf en geweier dat hy ’n kultusfiguur word. Gedurende ’n aanddiens in die Kerk van Versoening op Taizé het ’n Romeense vrou broer Roger in 2005 voor 2 500 mense met ’n mes aangeval en sy keel afgesny. Binne enkele minute het hy aan bloedverlies gesterf.

 

Sidebar