SCHWEITZER, ALBERT

SCHWEITZER, ALBERT (1875–1965), gebore in die Elzas, Frankryk, is een van die mees begaafde en veelsydige geeste van sy tyd. As teoloog skryf hy innoverend oor Jesus* en Paulus*, as filosoof oor Kant*, as musiekkenner ’n boek wat nuwe lig werp op Bach*, en as orreldeskundige ’n boek oor orrelbou wat ’n standaardwerk word. Ná twee doktorsgrade word hy sendeling*arts wat sy lewe wy aan die siekes van Lambarene in Wes-Afrika. Vir fondse vir sy werk gee hy orreluitvoerings in Europa en elders en ontvang die Nobel-prys vir Vrede (1952).

In die teologie* is hy bekend vir sy konsekwent-eskatologiese siening (Kyk by: Eskatologie en godsdiens). Jesus, sê hy, het die onmiddellike koms van die koninkryk* verwag, en toe dit nie gebeur nie, het Hy sy dood gebruik om dit af te dwing. Schweitzer se groot bydrae is egter kultureel en eties. Te midde van ondempbare optimisme, uitvindings en verwagtings, is hy met angs vervul: profeties sien hy reeds die ellendes wat sou kom omdat die wêreld nie ’n universeel-etiese norm* gehad het nie. Ná ’n lang stryd vind hy dié norm in 1915: respek vir lewe*, die aanvaarding van en sorg en liefde vir alle lewe. Die ry van tragedies wat sou volg, en die pogings ’n halfeeu later om menseregte* en ekologiese norme te formuleer (Kyk by: Ekologie en godsdiens), sou hom korrek bewys. Sy motiewe is ten diepste Christelik en uiteindelik toeganklik vir alle mense.

 

Sidebar