SCIËNTISME

SCIËNTISME huldig ’n fundamentalistiese* siening oor die wetenskap (Kyk by: Wetenskap en godsdiens), nl dat dit die laaste en enigste bron van egte kennis oor die lewe en die kosmos is, en dat alle ander bronne van kennis wat nie na die wetenskap herlei kan word nie, bloot spekulasie en opinie is. Hierdie beskouing het sy wortels in die filosofie van Auguste Comte (1798–1857) wat geglo het dat die laaste fase van die ontwikkeling van kennis, ná die teologiese en metafisiese fases, dié van die wetenskap sal wees waar mense hulle volledig sal wend tot “logiese” en “positiewe” antwoorde (vandaar “logiese positiwisme”). Net dit wat wetenskaplik waarneembaar, feitelik toetsbaar, en logies afleibaar is, is waar.

Sciëntisme roep gelowiges tot die verrekening van die verhouding tussen geloofskennis en wetenskaplike kennis. Wentzel van Huyssteen*, emeritus-hoogleraar in teologie* en wetenskap aan die Princetonse Teologiese Seminarium in die VSA, hou hom besig met die vraag of en hoe dialoog tussen teologie en wetenskap gevoer kan word. Hy reken dat “post-foundationalist epistemology” weë oopmaak vir kennis oor God en die skepping wat die gevare systap van relatiwistiese beskouings (geen ware kennis oor God en die skepping is moontlik nie) en fundamentalistiese beskouings (kennis oor God en die skepping is slegs moontlik deur ’n onbetwyfelde gesagsbron soos die rede of openbaring) wat meermale die debat oorheers.

Vir verdere lees: JWV van Huyssteen en NH Gregerson (red) 1998. Rethinking Theology and Science. Michigan: Eerdmans.

 

Sidebar