SEE VAN GALILEA

SEE VAN GALILEA is Israel* se grootste varswater-meer en is ongeveer 23 km lank en 13 km wyd – met ’n omtrek van 53 km en ’n oppervlakte van 166 vk km. Die meer is op sy diepste 48 m. Dit is die wêreld se laagste varswater-meer: 213 m onder seespiëel.

Dit is tradisie wat dié meer ’n “see” noem. In die Ou Testament* word dit die Gennesaretmeer genoem (Num 34:11; Deut 3:17). Dit kon dalk hierdie naam gekry het omdat dit soos ’n harp of lier lyk (Hebreeus: kinnor). ’n Ander naam is die See van Tiberias (Joh 6:1).

Jesus* het sy dissipels* langs hierdie meer geroep (Matt 4:18-22) waar Petrus* en Andreas* vissers was. Die Bergrede* is op ’n heuwel langs die meer gehou (Matt 5–7). Dit is ook dié omgewing waar die vermeerdering van die vyf brode en twee vissies plaasgevind het (Joh 6) en waar Jesus ná sy opstanding* op die strand vir die dissipels ontbyt gemaak het (Joh 21:1-14).

 

Sidebar