SEËN

SEËN. Die Bybel* is deurdronge van die besef dat as God nie sy seën gee nie, alles tevergeefs is (vgl Ps 127:1-2). God se seën op ons lewe, gee sin daaraan. Hierdie seën van God is allesomvattend en is nie net ’n gevoel van vergenoegdheid nie. God se seën strek uit oor ons liggaam en gesondheid, ons besittings en werk, ons verhoudings en ondernemings, ons geloof en verlangens, kortom, ons ganse bestaan. ’n Mens sou inderdaad die woord genade* as sinoniem vir seën kon gebruik. Dit beteken dat alles wat ons is of het, alles wat ons ontvang en ervaar wat goed is, van God af kom. Alles wat God in sy skepping*, maar ook in sy herskepping* aan ons geskenk het, is ’n teken van sy seën. Belangrik is om te onthou dat God se seën ten nouste saamhang met Homself, met sy teenwoordigheid by ons. Sonde* bring juis mee dat ons God se seën en God self van mekaar losdink, en dan maak asof eersgenoemde ons reg en verdienste is. Die kuns van die geloof*, inderdaad van die lewe, is om dankbaar God se seën uit sy hand te ontvang, en Hom te erken as die Gewer van alles wat ons lewens sinvol maak.

 

Sidebar