SEËNGROET

SEËNGROET. Die vroeë Christene* het mekaar dikwels op ’n spesifieke manier gegroet wat nie alleen bepaalde waarhede moes uitdruk nie (bv dat Jesus* regtig opgestaan het), maar ook die seën van hierdie waarheid in die daad van begroeting moes oordra. Die seëngroet het dus ’n performatiewe (bemiddelende) krag gehad. Later het die seëngroet ook ’n vaste plek in die erediens* verkry. In die gereformeerde* erediens volg dit bv direk ná die votum*, heel aan die begin van die diens. Die bedoeling daarmee is nie bloot om die versameling van gelowiges te groet nie, maar inderdaad om al die seëninge van die teenwoordige Here* oor te dra. Daarmee word bevestig dat die lewende Here teenwoordig is, en self sy gemeente* groet. Op hierdie manier word bevestig dat die versameling van mense inderdaad die Here se gemeente is. Die groet kan baie vorms aanneem. In die gereformeerde tradisie is dit dikwels trinitaries van aard: die genade en vrede van God, ons Vader*, en die Here* Jesus* Christus*, deur die werk van die Heilige Gees*, word aan die gemeente bemiddel. Dit kan ook aansluit by die vroegste Christelike groet, wanneer die predikant sê: “Die Here het opgestaan!” Hierop antwoord die gemeente: “Die Here het waarlik opgestaan!”

 

Sidebar