SEFANJA (BYBELBOEK)

SEFANJA (BYBELBOEK). Gedurende die heerskappy van die goddelose Manasse* (ongeveer 687–642 vC) het die stem van die profete* stil geword. Die profetiese uitsprake van Sefanja* verbreek hierdie stilte kort voor koning Josia* se hervormingsmaatreëls wat in 622 vC begin het (1:1). In die tyd van koning Josia (640–609 vC) kon Juda* onafhanklik funksioneer, vry van oorheersing deur ’n vreemde moondheid. Assirië* was besig om ineen te stort en die Babiloniese Ryk* het al hoe sterker begin word. Ongelukkig was dit ook ’n tyd van Baäl*-aanbidding (1:4), sinkretisme* met die Milkom-afgodsdiens van Ammon* (1:4-5) en leiers wat die spoor byster geraak het (3:1-5).

Samestelling en verdeling: Navorsers wys op ’n ingewikkelde ontstaansgeskiedenis van die boek met verskeie redaksies (voor-ballingskap; ballingskap*; na-ballingskap). Die kern van die boek kan egter voor die ballingskap gedateer word en die finale teks vorm ’n planmatige geheel. Die profesieë van Sefanja volg dieselfde patroon as by die meeste ander profeteboeke en ’n moontlike verdeling is soos volg: 1:1 (Opskrif); 1:2–2:3 (Oordeel* oor Juda* en Jerusalem*); 2:4–3:8 (Oordeel oor die buurvolke en die Assiriërs); 3:9-20 (Verlossing vir die nasies en Juda). Die opbou van die boek kan met ’n ketting vergelyk word. Elke gedeelte knoop by die voorafgaande een aan en die tema word verder gevoer of selfs in ’n nuwe rigting gestuur.

Boodskap: ’n Sentrale tema in die boek is dat die “dag van die Here*” aan die kom is. In teenstelling met die destydse populêre oortuiging dat dié dag oordeel vir ánder nasies inhou, sê Sefanja dat die oordeel Juda* insluit. Die sonde* van die volk is die oorsaak van God se oordeel. Dit het op materiële gebied goed gegaan met die Judeërs, maar hulle het hulle glad nie aan God gesteur nie (1:6, 12) en afgode* aanbid (1:4-5). Sefanja beskryf die “dag van die Here” met ’n paar treffende beelde: 1:7-8 vergelyk die dag met ’n maaltyd waartydens die gaste die slagoffers van die oordeel van God word; 1:12 beskryf die dag as ’n tyd wanneer God Jerusalem* met “lampe deursoek” om die selftevrede mense uit te snuffel. Die boek beskryf wel die moontlikheid van uitkoms vir ’n oorblyfsel van Juda, vir diegene wat hulle bekeer* (2:1-3). Hierdie oorblyfsel word gekenmerk deur hulle nederigheid en vertroue in die Naam van die Here* (3:12) sowel as hulle geregtigheid* en vrede* oor die toekoms (3:13). Sefanja is in sy oordeels- en verlossingsuitsprake universeel gerig, dit wil sê die hele skepping* is onder beheer van God (vgl 1:2-3). Alle nasies word aanspreeklik gehou in die lig van sy heiligheid* (2:4-15), alle nasies hoor sy oordeel en kan sy genade* ontvang (3:8-9). (Kyk ook: Boek van die Twaalf*.)

Vir verdere lees: PJ Nel 2006. Die boek Sefanja. Wellington: NGKU. McConville 2002. Exploring the Old Testament. Volume 4: Prophets. Londen: SPCK. SD Snyman 2000. “Violence and Deceit in Zephaniah” in: Old Testament Essays 13/1, 89-102. MA Sweeney 2003. Zephaniah (Hermeneia). Minneapolis: Fortress Press.

 

Sidebar