SEGREGASIE

SEGREGASIE is afgelei van die Latynse woord segregare wat beteken om ’n kudde af te sonder. Daar moet onderskei word tussen vrywillige en gedwonge segregasie. Eersgenoemde is verwant aan partisie waarvan Rusland, Ierland en die Indiese subkontinent voorbeelde is.

Segregasie word dikwels in die gedwonge sin gebruik. Die begrip het reeds in die 19de eeu praktiese beslag in die VSA gekry – veral in die suide. Ná die Amerikaanse Burgeroorlog (1861–1865) het segregasie die amptelike beleid in die meeste suidelike state geword onder die slagspreuk Separate but Equal. Dit is veral in openbare plekke, vervoer en skole toegepas en verskillende vereistes het vir Afro-Amerikaners (toe bekend as Negers) vir stemreg gegeld. Ná die Tweede Wêreldoorlog* het verset teen diskriminasie* in die VSA sterk toegeneem en uitsprake van die Amerikaanse hooggeregshof het dit al moeiliker gemaak om toe te pas. Die draaipunt is bereik met die hofuitspraak van 1954 wat segregasie in skole verbied het en met die burgerregtebetogings van 1964 en daarna.

Die Europese koloniale moondhede (Brittanje by uitstek) het almal die een of ander vorm van segregasie toegepas. In Suid-Afrika het dit onder meer deur konvensie en deur die beleid van persone soos Theophilus Shepstone* in Natal en Sir George Grey* in die Oostelike Provinsie sterker formele beslag gekry. Die Nasionale Party-regering het vanaf 1948 segregasie met apartheid* vervang en deur diskriminerende wetgewing skeiding op alle moontlike lewensvlakke geïmplementeer. In die 19de eeu het segregasie onder meer op godsdienstige vlak tot afsonderlike aanbidding en gevolglike aparte kerke gelei. Apartheid was grotendeels op die uitgediende Amerikaanse model gebaseer en is later in naam na afsonderlike ontwikkeling verander. Sedert 1994, met die demokratiese verkiesing in Suid-Afrika, is alle vorms van diskriminasie verbode en word – soos destyds in die VSA – die teenoorgestelde beleid van verpligte integrasie deur maatreëls soos regstellende aksie gevolg.

 

Sidebar