SEKSUALITEIT

SEKSUALITEIT. Daar is verskillende perspektiewe op seksualiteit. Die sosio-kulturele perspektief beskou seksualiteit as veral bepaal deur sosio-kulturele faktore. Seksualiteit word op dieselfde manier aangeleer as wat vriendskap en liefde* aangeleer word. Elke kultuur*groep besluit self wat normale, gesonde seksuele gedrag inhou en dra dit oor. Vanuit ’n biologiese perspektief word seksualiteit verstaan as ’n aangebore, liggaamlike drif wat sy oorsprong in fisiologiese of genetiese eienskappe het. Vanuit ’n Christelike* hoek sou mens liewer klem wou lê op die mens as psigofisieke eenheid wat in verantwoordelikheid teenoor sy naaste* en voor God ook sy/haar seksualiteit moet uitleef. Dit kom daarop neer dat seksualiteit dui op die totale belewing van die persoon as ’n psigofisieke wese wat hunker na eenwording met iemand anders, gewoonlik ’n persoon van die teenoorgestelde geslag. Dit bereik sy hoogtepunt in die seksdaad binne ’n vaste liefdesverhouding tussen twee volwassenes.

Die tradisionele kerklike siening bind die uitlewing van seksualiteit uitsluitlik aan ’n monogame (“huwelik van een man met een vrou op ’n keer” – HAT 2015) heteroseksuele* huweliksverhouding. Hierdie siening word toenemend aan kritiek onderwerp as ’n verskraling en te eksklusief. Daar klink bv uit die kerk* stemme op wat vra vir ’n herbesinning oor die verhouding tussen seks en die huwelik*. Die opvatting dat die amptelike huweliksluiting die grens vorm tussen sondige en verantwoordelike seks, word bevraagteken. Daar word gepleit vir ’n minder wettiese en meer evangeliese benadering tot seksualiteit. Dit beteken dat daar nie met vaste reëls gewerk word nie, maar dat ons duidelikheid kry oor die waardes vir ’n teologie* oor huwelik en seks. Een poging om so ’n waardestelling te formuleer, lui soos volg: “’n Seksuele verhouding is bedoel vir ’n vaste en langdurige verhouding waarin twee mense se liefde vir mekaar in intimiteit na vore kom en waarin hulle verantwoordelikheid vir mekaar aanvaar.” As hierdie waardestelling aanvaar word, kom die amptelike huweliksluiting as die magiese grens wat alleentoegang tot ’n verantwoordelike seksuele verhouding gee, onder druk. Tog sou geredeneer kon word dat die huwelik as instelling nie daardeur tersyde gestel nie, maar dat dit ons verplig tot ’n hernieude waardering vir die erns van die huwelik. (Kyk ook: Homoseksuele huwelik / Burgerlike verbintenis*.)

Vir verdere lees: JO Balswick en JK Balswick 1991. The Family: A Christian Perspective on the Contemporary Home. Grand Rapids: Baker. MA Hayes, W Porter en D Tombs 1998. Religion and Sexuality. Sheffield: Sheffield Academic Press. JA Heyns 1986. Teologiese etiek, deel 2/1: Sosiale etiek. Pretoria: NGKB. DJ Louw 1983. Die volwasse huwelik. Durban: Butterworth. J Müller 2002. Gesinne van binne: Vertel die verlede en droom oor die toekoms van jou gesin. Bloemfontein: Barnabas.

 

Sidebar