SEKSUELE MORAAL

SEKSUELE MORAAL. Die seksuele rewolusie het gedurende die tweede helfte van die vorige eeu ook die Suid-Afrikaanse samelewing getref. Die indiwiduele ervaring van seks was vroeër baie sterk aan die sosiale gewete gebind. ’n Mens sou kon verwys na die voortplantings- en skuldmoraal van die (19de-eeuse) Victoriaanse era. Hiervolgens is seks, indien nie vir voortplanting bedoel nie, iets waaroor ’n mens skuldig moet voel. Die verlies van genoemde kollektiewe binding het die volgende verskuiwing meegebring: die indiwidu laat sy seksuele lewe nie meer deur die sosiale gewete van die samelewing rig nie, maar deur sy eie gewete. In die verbruikersmaatskappy, aangehelp deur die vordering op mediese gebied (bv in terme van geboortebeperking), het seksualiteit ’n kommoditeit geword waarvan die waarde in die hoogste mate van genot vir die indiwidu lê, ’n investering in selfvervulling.

Terwyl hierdie nuwe benadering tot seks bevrydend gewerk het ten opsigte van die Victoriaanse skuld-en-voortplantingsmoraal en in dié opsig positief beoordeel moet word, ontkom dit nie aan die probleem dat seksualiteit gereduseer word tot ’n liggaamlik-biologiese gegewe nie. Uit ’n Christelike liefdesmoraal moet die klem op beide gawe en verantwoordelikheid gelê word. Seks is ’n viering van die liefde én ’n sedelike taak wat in die opdrag tot medemenslikheid vervat is.

Vir verdere lees: J Davies en G Loughlin (red) 1997. Sex These Days: Essays on Theology, Sexuality and Society. Sheffield: Sheffield Academic Press. WP Esterhuyse 1980. Die mens en sy seksuele moraal. Durban: Butterworth. DJ Louw 1983. Die volwasse huwelik. Durban: Butterworth.

 

Sidebar