SEKSUOLOGIE

SEKSUOLOGIE veronderstel die studie na seksualiteit*. In die studie van seksualiteit is daar sterk historiese, kontekstuele en kulturele aksente. Op voetspoor van Plato het Augustinus* en andere ’n dualistiese skeiding tussen liggaam* en siel* gehandhaaf. Dit het daartoe gelei dat voorgeskryf is dat Christene nie seks mag geniet nie, en dat die seksuele net vir voortplanting geskik geag is. Die tydperk ná die Tweede Wêreldoorlog* het ’n era ingelei waartydens die mens gepreokkupeer was met seksualiteit. Kinsey se verslae, Sexual Behavior in the Human Male (1948) en Sexual Behavior in the Human Female (1952), asook Masters en Johnson se Human Sexual Response (1966), verteenwoordig belangrike ontwikkelings in die studie van seksualiteit. Dié ontwikkeling het daartoe gelei dat seksualiteit gesien is as deel van mens-wees en dat alle menslike verhoudings ’n seksuele aspek verteenwoordig.

Seksuologie verteenwoordig ook ’n ontwikkeling in die teologiese* wêreld van die aanvanklike siening van die seksuele vir slegs voortplanting, tot erkenning van die seksuele as ontspanning. Erkenning word gegee dat God die mens geslagtelik geskep het en dat seksualiteit dus ’n integrale deel van mens-wees is. Die Bybelse* boodskap oor seksualiteit word nou positief gehoor en teologies word erken en aanvaar dat die ervaring van erotiese gevoelens en seksuele begeertes deel is van die totale mens-wees.

Vir verdere lees: L Diamant en RD McAnulty 1995. The Psychology of Sexual Orientation, Behavior and Identity. A Handbook. Connecticut: Greenwood Press. E Stuart, AR Webster en G Loughlin 2000. Studies in Theology and Sexuality. Bath: Sheffield Academic Press.

 

Sidebar