SEKTE

SEKTE is ’n woord wat gedurende die vorige eeu deur sekere historiese hoofstroomkerke op neerhalende wyse gebruik is vir groepe wat van hulle leer verskil het. Die hele pinksterbeweging* en die Baptiste* het hieronder geval. Daar is allerlei beginsels ontwikkel waaraan so ’n “sekte” uitgeken kon word. Die bekendste was die “Christus-plus”-beginsel wat beteken het dat enige groep wat by Christus* se verdienste nóg ’n vereiste bysit om gered te word, ’n “sekte” is. So sou die Baptiste en die pinkstergroepe die (groot-)doop by Christus as Saligmaker gesit het, en die Sewendedagse-Adventiste (Kyk by: Adventiste) die sabbat*.

Onder die invloed van die ekumeniese* beweging het daar beter onderlinge begrip tussen die meeste van die hoofstroomkerke en genoemde groepe ontstaan, sodat hulle deesdae op ’n ander vlak benader word. Daar is nog wel groepe wat baie ver van die hoofstroomkerke staan, soos die Ou Apostels, die Nuwe Apostels, die sg Mormone*, en die Jehowa-Getuies*. Maar selfs hulle sal selde nog met hierdie neerhalende woord beskryf word.

 

Sidebar