SEKULARISME (en SEKULARISASIE)

SEKULARISME (en SEKULARISASIE). Die begrip “sekularisme” is die eerste keer rondom 1850 gebruik deur GJ Holyoake (1817–1906) en dui normaalweg ’n perspektief of wêreldbeskouing aan wat die menslike kultuur* omvattend wil interpreteer sonder enige verwysing na God. Die mees ekstreme vorm van sekularisme is gewoonlik uitgesproke ateïsties*, alhoewel dit normaalweg skerp fokus op sosiale vooruitgang. Die verwante begrip “sekularisasie” word in ’n breër sin gebruik vir die moderne benadering waarin alle vorms van godsdienstige of bonatuurlike verklarings vir die wêreld of menslike kultuur ontken word. In hierdie sin verwys sekularisasie ook na ’n omvattende lewens- en wêreldbeskouing wat God en godsdiens as verklarende beginsels uitsluit. In hierdie algemene sin is sekularisme die pertinente bevestiging van hierdie-wêreldse waardes en die keuse vir profane eerder as sakrale interpretasies. Sekularisasie kan ook verwys na die radikale afname van enige formele godsdienstige invloede in bv die opvoeding, politiek, wetenskap en kultuur in die algemeen. Hierdie tipe van “institusionele sekularisasie” is altyd nou verbonde aan ideologiese vorms van sekularisasie. Dit is histories aangewakker deur die verlies van ’n verenigde Christendom* ná die Reformasie/Hervorming*, aan die een kant, en die toenemende rasionalisasie van die Westerse kulturele gemeenskappe sedert die Verligting* (Aufklärung*) tot en met ons moderne tegnologiese samelewing, aan die ander kant. Sekularisme as ’n omvattende lewensfilosofie impliseer dus ’n ongekwalifiseerde entoesiasme vir die proses van sekularisasie op alle terreine van die samelewing. Vanuit Christelik-teologiese oogpunt word sekularisme dikwels geassosieer met humanisme*. Albei konsepte is problematies wanneer dit uiters verengde sienings van die werklikheid verteenwoordig.  (Kyk ook: Humanisme en: Humanisme, Christelike.)

Sidebar