SEKULÊRE GEESTELIKES (ABBÉS)

SEKULÊRE GEESTELIKES (ABBÉS) is Katolieke* geestelikes wat ’n sekulêre oftewel nie-kerklike beroep beoefen. Abbés kan weergegee word met “geroepenes”.

Gui (Guy) Tachard (1651–1712), ’n Franse Jesuïete*-sendeling* en wiskundige, het die Kaap die eerste keer op 31 Mei 1685 besoek. Soos die naam aandui, was hy as abbé ’n sekulêre geestelike en het as een van ses Jesuïete-wiskundiges op versoek van Lodewyk XIV ’n afvaardiging na die koning van Siam (tans Thailand) vergesel. Hulle hooftaak was om kulturele en handelsbande en sending*moontlikhede te ondersoek. Tachard het die eerste betekenisvolle astronomiese waarnemings aan die Kaap vanaf ’n sterrewag in die Kompanjiestuin gemaak. Hy was waarskynlik ook die eerste sekulêre geestelike in Suid-Afrika en skryf in sy dagboek, Voyage de Siam des Péres Jesuites (1686), dat van die sterrekundiges saans by hulle sterrewag in die geheim deur Katolieke* inwoners besoek is. Die Katolieke is nie toegelaat om ’n mis*diens aan boord óf ’n erediens op land by te woon nie. Tachard was besorgd dat die VOC*-amptenare en andere wat groot voordeel uit die handel getrek het, nie in die sieleheil van diegene met wie daar handel gedryf is, geïnteresseerd was nie. Volgens hom kon die Khoekhoen* (Khoi-Khoi) gekersten word aangesien hulle “… geen groot ondeugde het wat hulle van Christenskap kan weerhou nie”. Tachard het die Kaap die laaste keer in April 1688 besoek.

Nicholas Louis de la Caille (1713–1762) is ’n ander bekende geestelike wat – soos Tachard – ’n belangstelling in astronomie gehad het, en was die Franse abbé wat vir drie jaar teologie* aan die Kollege van Navarre bestudeer het. Hy het die Kaap van April 1751 tot Maart 1853 besoek, en het besondere werk as sterrekundige verrig. Hy is bygestaan deur ’n werker, Poitevin, en het in Strandstraat ’n klein observatorium in die agterplaas van ene Bestbier ingerig. Hier het De la Caille met ’n teleskoop van 71 cm hoofsaaklik die posisie van sterre in die suidelike halfrond bepaal en sodoende ’n belangrike bydrae gelewer tot die bestaande kennis van die vorm van die aarde, die son- en maan-paralakse, asook magnetiese en astronomiese studies. Hy het voorts die posisie van meer as 9 800 sterre bepaal wat in sy publikasies verewig is. Die abbé De la Caille het gedurende September en Oktober 1753 driehoeksmetings in die Darling-omgewing en by sy sterrewag onderneem om basislyne vas te stel. Dit het onder kaptein Everest en sowat tagtig jaar later onder Sir Thomas Maclear se aandag gekom en het as belangrike grondslag gedien vir driehoeksmetings wat later in Suid-Afrika gedoen is. De la Caille se naamgewing van sterre en konstelasies was ook van besondere wetenskaplike belang. Hy het bv aan een sterregroep die naam Mons Mensa (Tafelberg) gegee omdat dit vir hom soos Tafelberg met sy kenmerkende kleed daarop gelyk het. Dit is steeds die enigste verskynsel op aarde wat in die hemelruim verewig is.

Henri Breuil (1877–1961) is ’n derde bekende Franse sekulêre geestelike wat sy internasionale loopbaan as argeoloog en paleontoloog met dié van priester*2 en teoloog gekombineer het. Hy het ’n groot bydrae in Suid-Afrika (en elders) gelewer tydens besoeke en ’n lang verblyf in Suid-Afrika wat onder meer tot die totstandkoming van die Argeologiese Buro in Suid-Afrika (later bekend as die Argeologiese Opname) gelei het. Benewens lesings en omvangryke publikasies as professor aan die Universiteit van die Witwatersrand (1944–1951), het Breuil aan talle ekspedisies – veral in verband met rotskunsterreine – in Suid-Afrika en die huidige Zimbabwe, Lesotho en Namibië deelgeneem. Die Brandberg-gebied naby Tsisab in Namibië was vir hom ’n spesiale belangstellingsterrein wat die wêreldbekende sg Witvrou van die Brandberg ingesluit het. As geheel het die abbé Breuil ’n monumentale bydrae gemaak tot die ontwaking en aanmoediging van belangstelling, asook wetenskaplike ondersoeke, opleiding en publikasies in verband met paleontologie, argeologie en prehistoriese rotskuns in Suidelike Afrika.

Vir verdere lees: R Raven-Hart 1971. Cape of Good Hope 1652–1702. The First Fifty Years of Dutch Colonisation as Seen by Callers, Deel 2. Kaapstad: AA Balkema.

 

Sidebar