SELA

SELA. Die betekenis van hierdie woord is onseker. Die woord kom in verskeie verbande voor.

  1. Musikale betekenis. Die woord kom in enkele psalms (bv Ps 3; 4; 52; 88; 143) voor, asook in Hab 3:3, 9, 13. Sommige meen dis ’n musikale notasie, ander meen dit dui ’n pouse aan waar ’n vertelling tussendeur ’n lied gemaak is, nog ander meen dat dit ’n musikale aanduiding aan die orkes of koor is. Omdat geen nuwe getuienis nog aan die lig gekom het nie, bly dit spekulasie.
  2. Stad in Benjamin. Dit word in dieselfde asem as Jerusalem* genoem (Jos 18:28), en was waarskynlik daar naby geleë. Dit is ook die plek waar Saul* en Jonatan* begrawe is (2 Sam 21:14).
  3. Stad in Edom wat deur Amasia* verower is. Hy het dit na Jokteël verander (2 Kon 14:7). Sommige, soos Hieronimus*, identifiseer dié stad met Petra, die hoofstad van die Ryk van Nabateërs, 80 km suid van die Dooie See.
  4. Die persoonsnaam van die derde seun van Juda*1 by ’n Kanaänitiese meisie, Bat-Sua* (Gen 38:5, 11, 14; Num 26:20).

 

Sidebar