SELESTIUS

SELESTIUS (vroeg 5de eeu) staan in die kerkgeskiedenis as ’n ketter* bekend omdat hy die rol van genade* in die verlossing van die sondaar, afgeskaal het.

Selestius is ’n Afrikaan wat as ’n advokaat in Rome* gewerk en ’n sekulêre lewe gelei het. Hier ontmoet hy vir Pelagius*, en raak saam met hom onvergenoegd met die sedelose lewe van die mense om hulle. Hulle voel dat mense self vir hulle gedrag verantwoordelikheid moet aanvaar. Hy ondersteun, en predik Pelagius se leer dat die mens ’n vrye wil het. Hy ontken dat die mens as gevolg van die erfsonde* nie kan help om te sondig nie.

Selestius word die eerste persoon om vir Pelagianisme* veroordeel te word. Dit gebeur by die Sinode van Kartago (in Afrika) in 411, en by verskeie ander sinodes*. Uiteindelik word Selestius se leerstellings deur die ekumeniese* Sinode van Efese in 431 heeltemal verwerp.

Augustinus* en Hieronimus* was twee van die felste teenstanders van Selestius se leer. Augustinus skryf veral in sy Definisies van sondeloosheid en Geloofstelling teen Selestius. Selestius se werke is vernietig, maar ten minste twee titels daarvan is bekend, naamlik sy Die monastiese lewe en sy Boek teen erfsonde.

 

Sidebar