SELFDOOD

SELFDOOD is die doelbewuste neem van jou eie lewe. In die antieke tyd is selfdood/selfmoord as deugsaam en eerbaar gereken. Die Christelike geloof* het selfdood egter tradisioneel as ’n sonde* beskou. Die belangrikste argument hiervoor was dat die mens nie die absolute eienaar van sy/haar lewe is nie: Dit is God wat lewe gee en dit is God wat lewe neem. Op grond hiervan het kerke in ’n stadium geweier om mense te begrawe wat aan selfdood gesterf het.

Vandag word egter al meer aandag aan die psigopatologie van selfdood gegee. Dit is nie net ’n komplekse saak nie, maar in al meer gevalle blyk dit ook minder “vrywillig” te wees as wat tot dusver geglo is. Soveel faktore kan ’n bydraende rol speel in die aanloop tot ’n spesifieke selfdoodgeval, dat dit net nie moontlik is om almal oor dieselfde kam te skeer nie. Selfdood as gevolg van ’n langdurige en pynlike siekte is iets anders as selfdood om bepaalde verantwoordelikhede te ontduik. Selfdood as gevolg van swart depressie is iets anders as selfdood wat bedoel is om wraak te neem. Die selfdood van Saul* (1 Sam 31:4) is iets anders as die selfdood van Judas*4 (Matt 27:5). Al meer gelowiges is dit eens dat ’n gelowige wat aan selfdood sterf, op grond van God se genade en liefde nie daardeur die ewige lewe by Hom ontneem word nie. Selfdood is ’n persoon se laaste daad, maar dit is nié die “onvergeeflike sonde” nie.

Vir verdere lees: PB Clarke en A Linzey 1996. Dictionary of Ethics, Theology and Society. Londen/New York: Routledge.

 

Sidebar