SELFSTANDIGWORDING

SELFSTANDIGWORDING. Die ideaal dat jonger kerke selfregerend, selfonderhoudend en selfuitbreidend moet wees (Kyk by: Drie-selwe-beweging), is teen die middel van die 19de eeu deur die sending*leiers Rufus Anderson* en Henry Venn* gepropageer. Die beweging het nadele gehad: Die kriteria wat gestel is, beklemtoon aspekte waarin die ouer, sendende kerke sterk was en die jong kerke op die sendingveld, swak. Dit het ’n Westers-gesentreerde siening versterk. Ander kriteria kon meer wesenlike aspekte van kerk-wees beklemtoon het, en die verhouding tussen ouer en jonger kerke meer gelyk gemaak het. Aan die ander kant het die beweging die verlange na selfstandigheid in die jong kerke gestimuleer – ’n verlange wat oorgedra is na die politiek in dié lande waar die lidmate van daardie kerke nog deur koloniale moondhede regeer is (Kyk by: Kolonialisme). Dit was dus in ’n sekere sin ’n geval waar die kerk voor die politiek was. Die drie-selwe-beweging is in ’n mate op die agtergrond geskuif deur ander benaderings, soos inheemswording* en kontekstualisering*, wat méér aspekte aangeraak het as net selfstandigwording. Tydens die politieke onafhanklikheidswording van die gekoloniseerde lande, het selfstandigwording op sy beurt ook in die jong kerke ’n rol gespeel. Dit is meestal opgevolg deur die ideaal van samewerking – vgl die Wêreldraad van Kerke* se konferensie van 1947 te Whitby* met die tema, “Partners in Obedience”, en die wegbeweeg van ’n Westers-gesentreerde benadering.

 

Sidebar