SELIBAAT

SELIBAAT beteken eenvoudig dat iemand ongetroud is en hom/haar weerhou van seksuele verhoudings. In die Katolieke Kerk* het dit egter ’n spesifieke betekenis gekry, naamlik dat ’n priester*2 wat tot die kerklike diens gewy word, ongetroud moet wees en daarna ook nie meer mag trou nie. Die Skrif* leer soos volg: Mense kan kies om nie te trou nie ter wille van die koninkryk van God (Matt 19:12). Die ongetroude persoon is nl vry van die verpligtings van die huwelik* en alle aandag kan aan die diens van die Here gewy word (1 Kor 7:32-35). Alhoewel die ongetroude staat voordele sou kon inhou vir iemand wat in diens van Christus* in die gemeente* werk, is dit geen verpligting nie. Die Skrif lê nie so ’n verpligting op ampsdraers* nie, maar gaan uit van die veronderstelling dat hulle ook getroud kan wees (1 Tim 3:2; Tit 1:6).

In 386 nC het pous* Siricius die selibaat verpligtend gemaak vir alle priesters, biskoppe*, kardinale* en die pous* self in wat vandag die Katolieke Kerk* is. In die Oosterse deel van die Christelike kerk was dié reëling nooit so streng nie, en meestal kan ’n priester wat getroud is en dan gewy word, getroud bly. Met die Reformasie is die selibaat in kerke van die Hervorming* afgeskaf en Luther* en Calvyn* het albei in die huwelik getree. Die NG Kerk* het selibaatskap ’n ruk lank as vereiste vir homoseksuele* predikante* gestel, maar dié sinode*besluit was van die staanspoor af onder groot druk omdat dit eise aan sommige predikante gestel het wat nie vir almal gegeld het nie. Om die selibaat as ’n vereiste vir ampsdraers te stel, is in alle gevalle onskriftuurlik.

 

Sidebar