SELOTE

SELOTE. Mattias se verset teen Antiogus* IV word soms as die oorsprong van die Selote (yweraars vir die wet*) gesien (1 Makk 2:24-27). Hulle was van die bekendste revolusionêre bewegings teen Romeinse onderdrukking (Kyk by: Romeinse Ryk). Die bekendste konflik het uitgebreek toe Florus, die Romeinse prokurator, Jerusalem* geplunder het en beheer van die tempel* wou neem (64–66 nC). Eleasar en priesters* van laer rangorde het oorlog verklaar deur offers vir Rome* te staak wat twee maal per dag as plaasvervanger vir die aanbidding* van die Romeinse keiser* gebring is. Onvoorwaardelike lojaliteit teenoor die ware Koning, die God* van Israel*, is vereis en alle eer aan heidense* heersers was verraad. ’n Bloedige burgeroorlog en oorlog teen Rome het gevolg weens hierdie verset van die godsdienstige leiers. In 74 nC het ’n massa-selfmoord in Masada* plaasgevind omdat die Selote nie kans gesien het om onder die Romeinse heerskappy te lewe nie.

Die begrip “seloot” druk ook onvoorwaardelike ywer vir God uit (Num 25:11; Hand 21:20). Simon*2 die Seloot was een van die twaalf apostels* (Hand 1:13). Paulus* beskou homself as ’n fanatieke yweraar (seloot) (Gal 1:14) en sê dat Christus* se offer ons ywerig (selote) maak om die goeie te doen (Tit 2:14). (Kyk ook: Simon*2).

 

Sidebar