SELSUS

SELSUS (laat 2de eeu) is ’n Griekse filosoof uit die tweede eeu. Hy skryf die eerste kritiek op die Christendom* wat aan ons bekend is. Hierdie werk, Die ware Logos, wat hy teen ongeveer 178 nC skryf, is verlore, maar die grootste deel van die teks bly behoue in Origines* se werk Teen Selsus wat hy net vóór die Christenvervolgings onder keiser* Desius skryf (249–251).

Niks is oor Selsus se lewe bekend nie, maar dis duidelik dat hy ’n groot aanhanger van die Hellenistiese kultuur was (Kyk by: Hellenisme). Hy beskuldig die Christene daarvan dat hulle onpatrioties teenoor die Hellenisme en die godsdiens van die staat is, en dat hulle die politieke sterkte asook die goeie invloed van die imperiale kultus op die samelewing se waardes onderskat. Verder probeer Selsus die Christene se godsdiens belaglik maak, en noem hulle leer oor die menswording* van Christus* en sy opstanding* absurd. Selsus weet besonder baie van die inhoud van sowel die Ou* as die Nuwe* Testament, maar maak dit af as stories oor wonderwerke wat nie kan stand hou voor die rede nie. Dis waarom net vroue, kinders en slawe hulle tot die Christendom bekeer, skryf hy. Hy komplimenteer die Christene egter oor hulle morele waardes, en hulle Logosleer, waarvolgens Christus lankal reeds as die Logos bestaan.

 

Sidebar