SEMI-PELAGIANISME

SEMI-PELAGIANISME is ’n omvattende term wat oorspronklik, veral vanaf 427 tot en met 529 nC, die besondere leerstellings aandui waarmee die Vroeë Kerk* die ekstreme denkwyses van beide Pelagius* en Augustinus* verwerp het. As sodanig verteenwoordig die Semi-Pelagianisme’n tussenposisie tussen die ekstreme standpunte van enersyds Pelagius, wat geglo het dat die eerste tree na verlossing by die menslike wil berus, en Augustinus wat sterk geargumenteer het vir die prioriteit, noodsaaklikheid en vrye genade* van God in die verkryging van Goddelike verlossing. Die begrip “Semi-Pelagianisme” is egter self ’n relatief moderne uitdrukking en word veral geassosieer met die Lutherse Formulae Concordiae (1577), asook met die teologie* van die Jesuïet* Luis Molina (1535–1699). Die begrip self is egter misleidend, want die sg Semi-Pelagiane wou hoegenaamd nie net “half-Pelagiaans” wees nie, maar was eintlik meer “Semi-Augustiniaans” in hulle verwerping van die Augustiniaanse leer van vrye genade, die totale gebondenheid van die menslike wil, en sy ekstreme predestinasie-* (uitverkiesing-*) leerstellings. Semi-Pelagiane het met Augustinus saamgestem oor die erns van sonde*, maar hulle het sy uitverkiesingsleer as nuut en gevaarlik gesien omdat dit met tradisie* gebots het, en veral omdat dit alle menslike pogings tot geloof* en verlossing oorbodig gemaak het.

 

Sidebar