SENDELING

SENDELING. Vyf “klasse” sendelinge sou onderskei kon word:

  1. Daar is die teologies*-geskoolde, geordende* persone wat uit een kerk* (die “sturende” kerk) in ’n ander omgewing (of kerk) werk met die oog op die evangelisering* van ongelowiges en die stigting en opbou van ’n jongkerk.
  2. Daar is ander (professionele) sendelinge wat in diens geneem is om die een of ander taak in ’n sendingbedryf te verrig (bv werk van ’n mediese, administratiewe of opvoedkundige aard).
  3. Daar is wat ons tentmakersendelinge sou kon noem. Dit is mense wat, gedryf deur ’n sendingroeping, ’n betrekking beklee of ’n besigheid op eie koste bedryf om sodoende in die een of ander “sendingveld” te kan leef. Dikwels werk sulke mense in situasies waar openlike sendingwerk nie toegelaat word nie.
  4. Die vierde kategorie is die korttermyn-sendelinge wat, as indiwidue of in ’n groep, vir ’n relatief kort termyn (ses maande tot drie jaar) in die sending diens doen.
  5. In laaste instansie is – Bybels* gesproke – élke gelowige ’n sendeling, oftewel getuie*. Daar is wel mense wat die begrip “sendeling” veel enger wil opvat, nl slegs hulle wat in ander kulture, verkieslik onbereikte kulture, evangeliewerk doen. Tog is dit goed om ’n breë perspektief daarop na te hou.

 

Sidebar