SENDING EN KULTUUR

SENDING EN KULTUUR. Kultuur* en etnisiteit maak twee van die belangrikste elemente van enige konteks uit waarin sending* plaasvind. Kultuur raak die ganse menswees, net soos godsdiens*. Hoewel sendingpogings nie altyd bewustelik probeer het om met die kultuurfaktor rekening te hou nie, het dit intuïtief wel gebeur. So het Paulus* aanpassings gemaak ter wille van sy nie-Joodse* gehoor. In die sending van die Katolieke Kerk* het die Jesuïete* dikwels ’n benadering van akkommodasie* gevolg, waardeur hulle hulle boodskap nou by die inheemse kultuur van die volke onder wie hulle gewerk het, laat aansluit het. Gedurende die 19de eeu is daar ook in Protestantse* kringe ernstig nagedink oor die samehang van sending en kultuur. Die Duitse sendingwetenskaplike, Gustav Warneck*, was bv ’n voorstander van etnies-gebaseerde kerstening. Een van die uitstaande pogings in die 20ste eeu om die verhouding met kultuur te deurdink, was dié van R Niebuhr*. Hendrik Kraemer*, sendingwetenskaplike van dieselfde periode, skryf ook oor sending, kultuur en inheemswording*. In die vroeë 21ste eeu is “inkulturasie*” die woord wat die konsensus hieroor die beste saamvat. Die evangelie* (en kerk*) neem vlees en liggaam aan wanneer dit in ’n volk en sy kultuur inkarneer. Dit gaan dus nie soseer oor die voortplanting van die kerk nie, maar oor die herhaalde hergeboorte van die kerk in nuwe kulture en kontekste (volgens DJ Bosch*).

 

Sidebar