SENDING EN SENDINGBEVEL

SENDING EN SENDINGBEVEL. Sending* is die roeping van die kerk* (elke gemeente* én elke lidmaat*) om in gehoorsaamheid aan die drie-enige* God, op grond van sy genadeverbond* met Abraham* (Gen 12:3, Gal 3:8 en volgende verse), onder leiding van die Heilige Gees*, getuies* van Jesus* Christus* in die wêreld te wees (Hand 1:8), met die oog op die koms van die koninkryk* van God (Op 21:3). Hierdie roeping spruit uit die liefde van God vir die wêreld (Joh 3:16). Die kerk se sending (missio ecclesiae*) kom dus op uit, en word gedra deur, God se genadige uitreik na die wêreld (missio Dei*). As “koninkrykstaak nommer een” van die kerk, behoort sending tot die wese van die kerk. Elke handeling van die kerk het óf ’n missionêre gerigtheid óf missionêre implikasies.

Sendingbevel word deur al die voorafgaande geïmpliseer, maar Skrifgedeeltes soos Joh 20:21 en Matt 28:18-20 noem dit eksplisiet. Veral lg het sedert die 19de eeuse sendingoplewing wêreldwyd bekendheid verwerf as “die Groot Opdrag”. In die 20ste eeu het talle sendingkundiges en teoloë aandag gevra vir Luk 4:16-27 as dié sentrale Skrifdeel vir die sending van die kerk in ’n wêreld van nood. (Kyk ook: Sending en kultuur en: Sending en vervolging.)

 

Sidebar