SENDING EN VERVOLGING

SENDING EN VERVOLGING. Christelike sendelinge* was van die begin af aan vervolging blootgestel. Paulus* is ’n vroeë voorbeeld hiervan. Vervolging het in die jongste jare eerder toe- as afgeneem. Volgens Geopende Deure, ’n internasionale Christelike* organisasie wat Christen-vervolging wêreldwyd monitor, se jaarlikse Waarnemingslys (2014) is die land waar Christene* die ergste in die wêreld vervolg word, kommunistiese* Noord-Korea, gevolg deur Somalië, Sirië, Irak, Afganistan, Saodi-Arabië, die Maledive-eilande, Pakistan, Iran en Jemen – in baie gevalle hoofsaaklik weens Islam*-ekstremisme.

In 2014 het hierdie saak in Suid-Afrika baie aandag gekry toe twee Suid-Afrikaanse families geliefdes verloor het wat besig was met opheffingswerk in fundamentalistiese* Moesliem*-lande. Ds Werner Groenewald, voorheen NG Kerk*-predikant van Moreletapark, sy dogter, Rodé, en seun, Jean-Pierre, is op 29 November in ’n Taliban-aanval in Kabdoel dood toe drie gewapende aanvallers die huis waarin hulle en ’n aantal Afgaanse werkers gewoon het, aangeval het – na bewering omdat hulle van sendingwerk in Afganistan verdink is. ’n Week later is Pierre Korkie, wat 558 dae in Jemen gyselaar gehou is – waar hy en sy vrou ook opheffingswerk gedoen het – dood toe hy tydens ’n mislukte reddingspoging van Amerikaanse spesmagte deur ’n lid van Al-Kaïda doodgeskiet is. (Dit moet hier vermeld word dat dit juis ’n humanitêre Moesliem*-organisasie, Gift of the Givers, was wat onder leiding van dr Imtiaz Sooliman betrokke was by volgehoue pogings om Korkie deur onderhandelings te bevry – en amper daarin geslaag het toe die Amerikaners ingegryp het.)

In ’n voorval in 2015 is 21 Koptiese Christene op ’n strand naby Tripoli in Libië deur die sg “Islamitiese Staat”-terroristegroep (IS) onthoof. Volgens biskop Antonius Markos van die St Mark Kopties-Ortodokse-katedraal in Johannesburg is dié soort vervolging vir Koptiese Christene niks vreemd nie. “Sedert die ontstaan van die Koptiese Kerk* 2 000 jaar gelede word ons deur terroriste geteiken. Ons bly egter getrou en die 21 mans wat gesterf het, het die hemel as martelaars ingegaan. Op die aaklige video wat IS van die onthoofding versprei het, kan jy sien hoe hulle tot aan die einde geprewel het , ‘My Here, Jesus’. Dit is ’n getuienis van hulle liefde en toewyding aan God,” het hy gesê (Die Burger, 17 Februarie 2015).

Prof Pieter Verster, hoof van die departement sendingwetenskap* aan die Universiteit van die Vrystaat, het na aanleiding van die Groenewalds en Korkie se dood, gesê dat daar nuut oor sending en/of hulpverleningswerk in gevaarlike lande gedink moet word (Die Burger, 10 Desember 2014). Verster glo sending- en hulpwerkers word deur ’n brandende passie na ’n land in nood geroep en moenie veroordeel word omdat hulle gaan werk in lande waar hulle aan gevaar blootgestel word nie. Hy verwys in dié verband na Matt 28:19. (Kyk by: Sending en sendingbevel.) Tog meen Verster daar is baie om in ag te neem – soos ’n mens se familie, kerk* en die krisisse in die wêreld, en dat die gesindheid waarmee sendingwerk (oor die algemeen) in gevaarlike plekke gedoen word, baie belangrik is: “Dit moet as diensknegte van gebrokenheid benader word.”

Ernstige botsings tussen Christene en Moesliems wat tot lewensverlies gelei het, het in die vroeë 21ste eeu meermale in Afrika*-lande waar albei groepe redelik sterk aanwesig is, voorgekom.

Volgens die Wêreld-waarnemingslys wat in Januarie 2017 deur Geopende Deure bekend gestel is, het die vervolging van Christene vir hulle geloof in 2016 erger geword. Die “top-tien” lande waar die vervolging van Christene toe op sy hewigste was, was Noord-Korea (1), Somalië (2), Afghanistan (3), Pakistan (4), Soedan (5), Sirië (6), Irak (7), Iran (8), Jemen (9) en Eritra (10). In ses lande het die situasie vir Christene teen 2016 baie agteruitgegaan:

  1. Jemen. In Jemen se burgeroorlog is die meeste kerke in die land vernietig. Die invloed van Islamitiese* militante neem toe.
  2. Indië. Die opkoms van Hindoe*-nasionalisme het daartoe gelei dat militante Hindoes al meer aanvalle op Christene doen. Hulle probeer Christene selfs met geweld dwing om terug te keer tot die Hindoe-geloof.
  3. Viëtnam. Die regering verskerp sy kommunistiese* fokus en daar word al meer geweld deur regeringsamptenare teen Christene gebruik, veral as hulle van etniese minderhede is.
  4. Laos. Christene word hier van twee kante onder druk geplaas: van Boeddhistiese* gemeenskappe wat hulle verstoot én van die regering wie se fokus op kommunisme verskerp het.
  5. Bangladesj. Hier is dit veral Moesliem*-militante wat druk op Christene plaas.
  6. Boetan in Asië wat volgens sy grondwet ’n Boeddhistiese land is en afkerig teenoor Christene staan.

(Kyk ook: Christendom en Islam; Islam; Martelaars.)

Vir verdere lees: Jason Mandryk (red) 2010 (7de uitgawe). Operation World. Colorado Springs: Biblica Publishing.

 

Sidebar