SENDING

SENDING. In die algemeen sou daar onderskei kon word tussen ’n enger en breër definisie van sending*. Eersgenoemde beperk sending tot die kommunikasie van die evangelie* deur die Woord*verkondiging. Sommige sal ook nog onderskeid maak tussen E-1, die evangelisering van ongelowiges binne jou eie kultuurgroep, E-2, kruiskultureel in ’n nabye kultuurgroep, en E-3, wanneer die kultuurgroep baie anders en ver van jou eie is.

Die breër definisie sê egter dat hierdie maar een (al is dit ’n belangrike, selfs dié belangrikste) komponent is van wat sending behels. Saam met hierdie euangelidso (Grieks* vir evangelisering – Kyk ook by: Evangelisasie), is daar egter ten minste ook nog twee ander dimensies, nl diakonia (diens*betoon) en koinonia* (gemeenskapstigting). Hierdie drie dimensies gesamentlik (sommige voeg nog leitourgia – aanbidding* – by, en nog ander die aspek van dikaiosune – geregtigheid*) vorm die veelsydige aard van die reddende evangelie. Die sendeling* is dan in woord en daad die martus (getuie – Kyk by: Getuig) van hierdie evangelie. Ons moet egter ook basies onderskei tussen die missio Dei*, God se sending, en die missiones ecclesiae*, die sendingaksies van die kerk*. Sending het sy oorsprong in die drie-enige* God, en Hy versamel vir Hom uit alle nasies ’n kerk wat as sy liggaam sy verteenwoordigers, sy getuies, op aarde is. (Kyk ook: Sendingmetodes.)

 

Sidebar