SENDINGGENOOTSKAPPE

SENDINGGENOOTSKAPPE. Die herlewing*beweging in Europa lei teen die einde van die 18de eeu tot ’n Protestantse* sending*ontwaking. Maar eerder as dat kerke sendingaksies onderneem, ontstaan talle sendinggenootskappe wat gebruik maak van die vrywillige ondersteuning van gelowiges. Die besef dat sending tot die wese van die kerk* behoort, sou eers later kom. Talle sendinggenootskappe stuur sendelinge* na Suid-Afrika. Van die eerstes was die Morawiese (1737 en weer 1792), Londense* (1799), Wesleyaanse (1816), Glasgowse (1821), Paryse, Rynse (beide 1829) en Berlynse (1834) sendinggenootskappe. Later sou baie ander volg. Hulle werk in Suid-Afrika mond uit in verskeie kerke – die Morawiese*, Kongregasionalistiese*, Metodiste*, Presbiteriaanse*, en Lutherse* kerke. Die Rynse en Paryse genootskappe se werkkringe is mettertyd aan ander kerke oorgedra, meestal die NG Sendingkerk* (die huidige Verenigende Geref Kerk  – VGKSA).

’n Meer moderne weergawe van genootskaplike sending leef weer sterker op teen die tweede helfte van die 20ste eeu met die vorming van talle parakerklike (sending-)organisasies. Hulle funksioneer onafhanklik van kerke, maar wil meestal, dikwels op ’n bepaalde gespesialiseerde terrein, kerke en gemeentes* in ’n ondersteunende verband bystaan. Op hierdie manier lewer baie van hulle ’n groot diens, maar loop soms die gevaar om uit te groei tot ’n grootheid wat vanweë gevestigde belange al meer toegespits raak op eie voortbestaan.

Vir verder lees: J du Plessis 1911 A History of Christian Missions in South Africa. Londen: Longmans.

 

Sidebar