SENDINGGESKIEDENIS

SENDINGGESKIEDENIS is ’n belangrike aspek van missiologie. Dit is in werklikheid die geskiedenis van die groei en uitbreiding van die Christendom* as integrale deel van die plaaslike, streeks- en globale konteks daarvan, en word in dieselfde asem as die geskiedenis van die Christendom genoem. Dit is die annale van God se heilsdade in die geheel van die geskiedenis, wat nie in “heilig*” en “sekulêr” verdeel kan word nie – sodat enige denkbeeld van die heilsgeskiedenis* in dié lig beskou moet word. Sendinggeskiedenis is onlosmaaklik verbind aan eskatologie*. Dit blyk alreeds duidelik wanneer God se koninkryk* in die geskiedenis deurbreek, aangekondig deur die vleeswording van Christus* en gerig deur die Heilige Gees*, wat sal uitloop op die volle verwesenliking van die koninkryk. Sendinggeskiedenis bestudeer ons wortels om sodoende ’n rigting vir die toekoms uit te werk. Ondanks die negatiewe invloed van kolonialisme* het die Christendom gedurende die koloniale tydperk aansienlik uitgebrei. Die antikoloniale era, wat daarop gevolg het, is gekenmerk deur groei in plaaslike kerke. Sulke kerke word onafhanklik van politieke mag bedryf, en vereenselwig hulle met en bevorder die belange van die onderdruktes en uitgeworpenes. Die huidige wêreldgees vereis ’n paradigmaskuif in die rigting van die ekumeniese* idee van ’n wêreldkerk wat bestaan uit onderling verbonde vennootkerke.

 

Sidebar